binneste
skool
pret

Papegaaie

 

“Koppiekrap! Koppiekrap! Hello, jou mooi ding! Pretty Pollie, Pretty Pollie!”

 

So gesels Pollie papegaai tog te lekker. Maar verstaan hy regtig wat hy sê? Papegaaie het ’n talent om goed te kan naboots. In die natuur sal hulle die geluide van hul ouers en ander voëls in hul swerm naboots, sodat elke swerm sy eie lede kan identifiseer.

 

Troetelpapegaaie hoor slegs mensestemme en huishoudelike geluide, en leer om dit na te boots. So het vele mense al na die telefoon gestorm om te vind dat dit nie die telefoon was wat gelui het nie, maar Pollie wat dit so goed nageboots het!

 

Vere maak die voël

Papegaaie is van die voëls met die helderste kleure – rooi, geel, groen, pers of blou. Die kleure is belangrik in die vlerksleeptyd wanneer die mannetjie die wyfie wil beïndruk. Hul gebruik ook hul helder kleure om af te wys as hulle in ’n magstryd gewikkel is met ’n mededinger.

 

Oppas, ek kan pik!

’n Papegaai het ’n sterk geboë snawel wat só gevorm is sodat dit neute en sade maklik kan kraak en oopbreek. Hou maar jou vingers weg, selfs ’n speel-speel byt kan diep sny en baie seer wees!

 

Unieke pote

Papegaaie en hul familie (soos budgies) se pote lyk anders as meeste ander voëls s’n. Meeste voëls het drie tone wat vorentoe wys en een toon wat agtertoe wys. Papegaaie het egter twee tone wat vorentoe wys en twee wat agtertoe wys. Dit is ideaal vir hierdie voëls wat meeste van hul tyd deurbring deur aan takkies te klou en te swaai.

 

Natuurlike tuiste

Papegaaie leef meestal in warm klimaat in woude. Baie spesies kom voor in Sentraal- en Suid-Amerika, midde-Afrika, tropiese Asië en Australië.

 

 

Oupa-Uil? Watwou, Oupa-Papegaai!

Honde word maar so tien tot twaalf jaar oud, as jy baie gelukkig is, twintig jaar. Maar ’n papegaai kan veertig jaar en ouer word! Dink dus baie mooi voordat jy ’n papegaai aanskaf as ’n troeteldier. As jy na ses maande moeg is vir hom, het jy die  verantwoordelikheid om nog baie jare vir hom te sorg!

 

Gesels, gesels, gesels!

Hulle het baie liefde en aandag nodig. As jy hou van gesels, sal jy jou papegaai baie gelukkig maak deur gereeld met hom te gesels. Dit is dalk ’n goeie plan om die radio aan te sit wanneer jy by die skool is sodat hy nie so eensaam in stilte hoef te sit nie.

 

Hoekie vir eensames

Ek is ’n spix-papegaai van Brasilië, ’n mannetjie. Mense sukkel al vanaf die jaar 2000 om vir my ’n wyfie te kry. Daar is net nêrens meer van my soort te vinde nie. Ek is só eensaam! Baie van my neefs word ook bedreig. Mense vang ons en dryf onwettig handel met ons. Verder breek die mense ons mooi woude af om plek te maak vir ontwikkeling.

 

Hoe kies mens ’n gesonde papagaai?

Kies een met

· Helder blink oë –anders het hy dalk ooginfeksie.

· Skoon neusgate – anders het hy dalk asemhalingsprobleme.

· Mooi vere – nie te opgepof nie, anders is hy redelik onaktief, of gooi gereeld vere af.

· Energie – hy moet aktief en op-en-wakker wees.

 

Hoekom gooi mens sy hok snags met ’n kombers toe?

· Dit laat hom veilig en beskut voel.

· Dit hou hom warm.

· Dit beheer sy slaaproetine.

 

Papegaai dieetwenke

· Gekoopte papegaaikorrels is gebalanseerd.

· Vul dit aan met vars vrugte en groente (verwyder daagliks die vorige dag s’n wat oorgebly het).

· Sorg altyd vir vars water.

 

Spuit my nat, spuit my nat!

Papegaaie hou van bad, nes die meeste voëls. Hulle geniet dit om natgespuit te word met ’n sproeibottel.