binneste
skool
pret

 

Hoekom is dit belangrik om met maats te speel?

 

Natuurlik is dit baie lekker, maar daar is ander redes hoekom dit belangrik is om met maats te speel, veral dié wat in jou ouderdomsgroep is.

 

· Hulle  help jou om besig te bly. Dan is jy nie pouses alleen nie en kan jy makliker elke dag geniet.

· Jy leer nuwe speletjies, leer van interessante dinge en lag saam oor grappies.

· Jy leer om jou beurt af te wag gedurende speletjies, en natuurlik om die reëls te gehoorsaam, anders mag jy nie meer saamspeel nie.

· Maats leer ook bymekaar hoe om te stry. Jy leer ook hoe om jouself te verdedig!

· Wanneer kinders van dieselfde geslag met mekaar speel, leer hulle hoe dogters en seuns veronderstel is om op te tree, en watter gedrag verkeerd of lelik is.

· Kinders leer by mekaar hoe om te sê “Ek is jammer, vergewe my asseblief”.

 

Jesus – ons voorbeeld

Toe God besluit het daar gaan kinders op hierdie aarde wees, het Hy geweet dat alle kinders nie van mekaar gaan hou nie en dat almal nie met mekaar sal wil speel nie. Hy het ook geweet dat alles in die lewe nie net maklik  sal wees nie, en dat party maatjies alleen gaan voel, sukkel om maats te maak en miskien sukkel met huiswerk en skoolwerk.

 

Hy wil hê dat ons elke dag met Hom moet praat wanneer ons sukkel.

Hy wil ook hê dat as ons sukkel om maats te maak,

ons vir Hom sal vra om te help.

 

Het julle geweet toe Jesus op aarde was het hy BAIE mense geken, en baie mense het Hom geken, MAAR hy het net ‘n paar vriende gehad. Weet jy hoe was Jesus teenoor ander mense? Hy was altyd vriendelik, Hy het gehelp as hulle probleme het, Hy was nederig en het hulle vergewe.

 

Weet jy wat het een van Jesus se vriende gedoen toe die soldate Hom gevange geneem het? Ja, Petrus het die soldaat se oor af gekap en gewys dat hy lojaal is. Tog het hy later gemaak asof hy nie vir Jesus ken nie (lees Johannes 18). Jesus is so wonderlik, Hy het Petrus nie verwyt nie, maar dadelik vergewe.

 

Jesus se ander vriend, Johannes, het tot die einde by Jesus gestaan en selfs vir Jesus se ma gesorg nadat  Hy opgevaar het hemel toe (Lees Johannes 19:17-27).

 

As Jesus jou maat was, watter tipe maat sou jy vir Hom gewees het? Sou jy vriendelik met Hom gewees het, goeie goed gedoen het en hulpvaardig gewees het? Wel, Jesus vra dat ons elke maat mooi moet hanteer soos ons Hom sou hanteer.

 

Kies om (soos Jesus en Johannes) vir jou maats ’n ware vriend te wees!