binneste
skool
pret

Maak ’n verskil! (al is jy jonk)

 

Klein beertjies, groot bere en yslike bere! Duisende van hulle! Raai, raai waar is ek nou? Nee, nie by ’n speelgoedfabriek of ’n speelgoedwinkel nie. Ek is by Hanco en Morné Viljoen se huis. Hierdie is twee jong seuns wat kans sien vir baie – meer as waarvoor baie grootmense kans sien!  

 

Hulle het besluit om 100 000 beertjies in te samel om vir kinders met kanker te gee.  Honderdduisend is baie: as jy in ’n groot skool is, is daar dalk so eenduisend leerlinge in jou skool.  Sit nou ’n honderd sulke skole se leerlinge bymekaar, dan kom jy by honderdduisend uit!

 

Waarom beertjies vir kankerlyers?

Hanco het self kanker. Die dokters het dit in 2005 ontdek. Sederdien het hy chemobehandeling ontvang, waarop hy goed gereageer het. Dit laat ’n mens egter baie sleg voel en het veroorsaak dat al sy hare uitgeval het. Hanco het in dié tyd ervaar dat dit lekker is om ’n teddie styf vas te hou. Hy en sy gesin het besluit dat hulle graag iets vir ander wou beteken – hulle wou graag vir ander kinders met kanker ook ’n sagte speelding gee om hulle te troos. Die beertjie-projek help vir Hanco om te dink aan iets anders as sy eie probleme. [Belangrike wenk: as jy probleme het, kyk hoe jy ander mense kan help, dan lyk jou eie probleme kleiner en voel jy sommer stukke beter!]

 

Hoe begin ’n mens met so ’n groot projek?

Pa Hendrik en Ma Marinda het gehelp. ’n Webtuiste is geskep, hulle het ’n e-pos geskryf waarin hulle verduidelik wat hulle wil doen en dit aan verskeie mense gestuur.  Gou het die nuus soos ’n veldbrand versprei en is daar artikels in koerante en tydskrifte geplaas, hul storie was oor die radio en selfs op televisie. Mense van oral het gehoor van die projek en almal het ywerig beertjies bymekaar gemaak en gaan aflewer by die Viljoens se huis.

 

Gou het die sit- en eetkamer verander in ’n pakplek vir beertjies. Later moes hulle spesiaal ’n plek huur om die beertjies te stoor totdat dit uitgedeel word. Teen middel April het hulle sowat 30 000 beertjies ontvang! Net om die beertjies te tel, was al ’n reuse taak! Teen Augustus het hulle die 100 000 merk verbygesteek! Iets wat heeltemal onmoontlik geklink het, het gebeur!

 

Beertjies met hul eie stories

Daar is selfs beertjies ontvang van kinders wat self al kanker gehad het en genees is. Hulle wou graag die beertjies wat die swaarkrypad saam met hulle gestap het, gee vir iemand wat nou ook daardie pad moet stap.

 

Lees verder...