binneste
skool
pret
Die Here raak my Mamma aan

 

 

“Mamma is baie siek. Ek moet ‘n operasie kry wat baie gevaarlik is. Die dokters weet nie of ek die operasie sal oorleef nie.”

 

As ‘n mens skielik moet hoor dat jou ma miskien nie meer lank sal lewe nie, skrik ‘n mens.  Skielik dink jy aan alles wat julle al saam gedoen het en alles wat jy nog graag saam met haar wil doen.  ‘n Mens wonder hoe dit sal wees as jou ma nie meer daar is om jou soggens wakker te maak nie, as sy nie meer vir jou lekker bederf-kos maak nie, as sy nie meer daar is om jou ‘n stywe druk te gee en vir jou te sê “ek is lief vir jou” nie.  

 

Joanné Oberholster is 10 jaar oud en baie lief vir haar ma.  Haar ma is al baie lank siek, maar oor tyd het sy al sieker geword.  Uiteindelik het die dag aangebreek dat haar ma vir haar moes sê van die operasie en dat dit regtig ‘n gevaarlike operasie is.   

 

Joanné was baie bang , veral toe haar ma ‘n klomp vorms moes teken waarin staan dat daar vreeslik baie goed fout kon gaan tydens die operasie.  Omdat die dokters aan haar brein sou opereer, kon iets baie maklik skeefloop  – haar ma kon byvoorbeeld blind of verlam eindig.

 

Joanné het vir haar ma gebid. Sy het geweet dat net  die Here hulle kon help. Dit was vir haar wonderlik om te weet dat baie ander mense ook vir haar gebid het. Mense van verskillende kerke van baie verskillende dorpe en selfs hul vorige bediende, Nora, en haar gemeente,

het gebid. Joanné het geweet dat sy altyd op die Here kan Vertrou.

 

En toe breek die dag aan dat hulle Kaap toe moes vlieg vir die

operasie.  Dit was die eerste keer dat sy in ‘n Boeing gevlieg het en dit was lekker,

maar niks is regtig lekker as jy begin dink aan die operasie en jou ma se siekte nie…

 

By die hospitaal, net voor die operasie, het Joanné gedink dat dit die laaste keer is dat sy haar ma sou sien…  Die operasie was ses ure lank.  Sy en haar pa het buite die teater gewag.  Ses ure is baie lank om te wonder en te wag en te bid en te hoop.

 

Maar die Here was getrou.  Hy het al die gebede verhoor!  Die operasie was ‘n reuse sukses.  Toe Joanné haar ma weer sien, het sy baie gehuil.  Maar hierdie keer was dit trane van blydskap.  Blydskap, omdat Jesus haar mamma vir haar teruggegee het.

 

Haar ma het gou aangesterk en almal verras omdat sy so gou herstel het.  Die Here was getrou!  Hy verhoor gebede en doen vandag nog wonderwerke.

 

Lees verder...