binneste
skool
pret

Hoe kriek ‘n kriek en hoe tok ‘n toktokkie?

 

Mense praat en sing met hul stemme.  Alhoewel geen insek stemgeluide kan maak nie, kan baie insekte wel klanke maak.  Verskillende insekte gebruik verskillende liggaamsdele om die klanke te maak.

 

Baie mans dink hul vrouens praat darem vreeslik baie, maar by insekte is dit net mooi andersom!  In baie gevalle kan slegs die mannetjies geluide maak.  Die wyfies van hierdie soorte is stom, aangesien hulle glad nie geluidorgane het nie of dit is onderontwikkeld.

 

Jy het sekerlik al snags die krieke gehoor kriek.  As daar al ooit ‘n verdwaalde kriek in jou kamer was, sal jy weet dat hulle gekriek baie hard kan wees en jou skoon uit die slaap kan hou!

 

Maar hoe kry meneer kriek gekriek?  Krieke skuur hul voorste twee vlerke teen mekaar en dit veroorsaak die geluide wat ons hoor.   Hierdie kriek-liedjies help die mannetjies en vroutjies om mekaar te vind.  

 

Toktokkies maak geluide deur hul buike teen die grond te stamp.  Hulle het heel waarskynlik ‘n soort kode waardeur hulle boodskappies aan mekaar stuur.  Toktokkies wat alleen tik, het ‘n ander tik-ritme as toktokkies wat mekaar antwoord.  Wanneer hulle naby aan mekaar is, is hulle meer opgewonde en is die tikkery vinniger.  Dit is duidelik dat die tikkery met hul liefdeslewe te doen het en dat dit help om die mannetjie en vroutjie bymekaar te bring.

 

 

Het jy dalk gedink dat dit net kinders is wat hul koppe uit pure woede teen die vloer stamp?  Watwou!  Rysmiersoldate veroorsaak soms ‘n dowwe klopgeluid as hulle met hul koppe teen die vloer van die miershoop tik.  Soms doen ‘n klomp dit gelyk en dan klink dit amper soos die dowwe dreun van perdegalop.  Hierdie klopgeluide is heel waarskynlik waarskuwingseine om die ander rysmiere in die nes te waarsku teen gevaar.  

 

Die klipspringkaan verbeel hom hy is ‘n banjo-speler.  Hy het ‘n musiek-“instrument” wat amper soos ‘n banjo lyk en pluk sy twee snare met pennetjies wat aan sy dybeen sit.