binneste
skool
pret

Gimnastiek  

                                                      Deur Charles Hills

 

Gimnastiek is een van die mooiste sporte om na te kyk. Die meisies verstom mens as hulle so grasieus hul vloeroefeninge al dansend doen. En mens snak keer op keer na jou asem as hul hulself so fyntjies op die balk balanseer terwyl hulle wawiele, flik-flakke en ander toertjies doen wat ons gewone mense nie eens op die grond kan doen nie! Die ouens verras ons met hul absolute krag en koördinasie.

 

Uit ou skilderye en ander bewyse weet ons dat gimnastiek reeds meer as 3000 jaar gelede in Antieke Egipte en later in die Griekse en Romeinse Ryke, beoefen is. Daarna is dit vir lank nie juis beoefen nie, tot vroeg in die 19de eeu toe F. Jahn en P. Ling nuwe metodes van oefening bekendgestel het, waaruit moderne gimnastiek ontwikkel het.

 

Gimnastiek ontwikkel jou spiere, jou balans, veerkragtigheid en soepelheid.

 

Meisies kan kies tussen artistieke gimnastiek en ritmiese gimnastiek. Artistieke gimnastiek bestaan uit oefening op vier tipes apparaat: die asimmetriese brug, die vloer, die balanseerbalk, en die perd. Ritmiese gimnastiek behels soepel dansbewegings terwyl met handapparaat gewerk word –’n bal, hoepel, tou, lint of knuppels.

Seuns werk op ses apparate –die vloer, die “pommel” perd, die ringe, parallel brug, horisontale brug en die perd.

 

Opwarming is baie belangrik voordat die gimnas met sy roetines begin. Dit help om die spiere warm en soeple te maak, en help om beserings te voorkom.

 

Om ’n goeie gimnas te word, is getroue gedissiplineerde oefening noodsaaklik.