binneste
skool
pret

Toedeldoe ontdek Peru

 

                               Deur Riëtte Odendaal

 

O, wêreld, ek het darem ’n interessante land besoek. Ek het so baie om julle te vertel!

 

O, aarde! Amper vergeet ek om myself voor te stel. Ek is Toedeldoe, en ek hou nie daarvan om lank op een plek te bly nie. Die wêreld is daar om ontdek te word! Ek gaan verken voortdurend nuwe plekke, maak nuwe vriende, en kort voor lank is dit weer tyd om my tasse te pak en te sê “toedeldoe, sien julle weer eendag!”

 

Waar was ek nou weer… O ja! Ek kom nou terug van ’n land met die naam Peru. Peru is in Suid-Amerika.

 

Die oorspronklike mense van Peru is die Inkas. Hulle lyk amper soos Indiane: hul hare is swart en hul velle donker. Die mense wat afstam van die Inkas, is die Quechua en die Aymara mense. Baie van hierdie mense is baie arm.

 

Die Spanjaarde het lank gelede hul land ingeneem. Daarom praat hulle deesdae meestal Spaans en lyk baie geboue soos dié in Spanje. (Hulle het my daar senõrita Toedeldoe genoem!) Die Spanjaarde het Christenskap met hulle saamgebring en dus is die sterkste geloof in die land die Christendom. Ongelukkig is daar baie van hierdie mense wat nie vir Jesus persoonlik ken as hul Redder nie.

Hulle kry meeste van hul vleis van ’n interessante dier, die alpakka. Hulle gebruik ook die alpakka se wol vir klere en komberse. Die ma’s dra hul babas op hul rûe in lappe wat van alpakka-wol geweef is.

 

Pragtige truie, serpe, hoede, pantoffels en nog vele produkte word van alpakka-wol gemaak en veral aan die toeriste (soos ek!) verkoop.

 

Die mense wat op die meer afgeleë plekke woon, dra van die vrolike helderkleurige klere wat van alpakka-wol gemaak word.

 

Hul gunsteling vleisgereg is “cuy”. (Mens spreek dit “koei” uit, maar dis glad nie koeivleis nie! Dit is marmotvleis! Wat vir my erg was, is dat hulle baiekeer die marmotte aanhou in hul huise soos troeteldiere (amper soos julle hamsters aanhou), en dan slag hulle dit en eet dit!

Mielies kom oorspronklik van Suid-Amerika. Maar kan julle glo, dit lyk of iemand hul mielies in kleursel gedoop het. Hul mielies is PERS! Hul maak selfs  koeldrank van die mielies! Dit word “chida de morada” genoem.