binneste
skool
pret

Rio de Janeiro

                                               

Het jy dalk al die liedjie”Yellow polka dot bikini” gehoor? Die liedjie se oorspronklike naam is eintlik “The girl from Ipanema”. Ipanema is een van die bekendste strande in Rio.

 

Ag ekskuus, ek raak so opgewonde en jy weet seker nie eens waar ek nou in die wêreld is nie! Ek is is Suid-Amerika, in ’n land met die naam Brasilië. Rio de Janeiro (of  sommer kortweg, Rio) is ’n bekende stad in Brasilië.

 

In Rio is daar ’n massiewe beeld waar Jesus met sy uitgestrekte arms op ’n berg staan. Ek het so klein gevoel toe ek aan die voete van dié 38m hoë standbeeld gestaan het!

 

 

In Rio LEEF die mense! Hulle is vreeslik vrolik en geniet die son en die see. Die sypaadjies van elke strand is met verskillende patrone versier en oral is klein strandkafeetjies met vrolike sambrele. Hulle verkoop vars seekos en lekker drinkgoedjies.

 

Vat jy ook altyd so baie goed strand toe? Hier was dit vir my ’n belewenis om te sien hoe min goed hulle saamdra. Stoele, sambrele, kos en drinkgoed is alles teen billike pryse op die strand beskikbaar. As jy daar aankom met ’n strandhanddoek, kyk almal jou vreemd aan! Hulle gebruik sommer die strandserp wat nou net om die lyf was vir ’n handdoek!

 

Teen laatmiddag word die stoele en stalletjies opgepak en op groot waentjies agter ’n fiets weggery. Dan word daar oral op die strand ligte aangesit en rugby, volleybal en sokker word gespeel.

 

In Rio word elke jaar ’n groot karnaval gehou wat wêreldbekend is. Geen moeite word ontsien om kostuums en vlotte te maak nie. Sommige van die vlotte is ’n paar verdiepings hoog.Daar word baie vere in die kostuums gebruik, en van die rokke is soms twee maal so hoog soos die mens wat hom aanhet! Ek dink hulle gebruik seker ingenieurs om die mode-ontwerpers te help! Tydens die optog van die karnaval word volik gedans en toertjies gedoen.

 

As jy van strande, see, son en mense hou, is Rio die plek vir jou!