binneste
skool
pret

Duitsland

 

Ek wou nog altyd in ’n regte, egte kasteel rondloop. Daarom het ek Duitsland toe gekom – ’n land met baie kastele!

 

München

Heel eerste het ek München besoek. By hul wêreldbekende Oktoberfest is “pret” die wagwoord. Vrolike musiek, duisende mense, ’n groot mallemeule, groot tente, baie bier, interessante hartvormige-kruiekoekies (lebkuchen) en oulike teddiebeertjies… Baie van die Duitsers trek hul tradisionele drag vir die okkasie aan. Die fees word sedert 1810 gevier ter ere van hul kroonprins Ludwig se troue destyds. Omdat dit in Oktober reeds koud word, is die fees later na September geskuif, maar word steeds die Oktoberfest genoem.

 

 

München is ’n pragtige stad met lieflike parke en woude. Dit is so mooi groen! In die somer pryk daar vrolike blommetjies op die vensterbanke van die interessante ou geboue. In die winter is alles toe onder die sneeu…’n spierwit sprokieswêreld!

 

Geskiedenis

Duitsland lê in Europa, en die hoofstad is Bonn. Dit is ’n land met ’n baie interessante en hartseer geskiedenis. Tydens die tweede wêreldoorlog het Hitler en sy gevreesde SS-soldate duisende mense in konsentrasiekampe geplaas. Hier is die mense gemartel en baie het gesterf. Duitsland is daarna verskeur in die Kommunistiese Oos-Duitsland, met Berlyn as die hoofstad, en Wes-Duitsland, met Bonn as die hoofstad. ’n Muur is in 1961 opgerig in Berlyn wat gekeer het dat mense van die ooste na die weste kon vlug.  Eers 28 jaar later, in 1989, is mense toegelaat om na die weste te gaan. Teen die einde van 1990 is die muur verwyder.

 

Kastele

Ek het baie kastele hier besoek, maar die mooiste is Neuschwanstein. Dit het langer as 13 jaar geneem om te bou en het destyds (in 1873) meer as 6 miljoen mark gekos. Sowat 465 ton marmer is gebruik! Die kasteel is omring deur woude, berge en mere en lyk regtig soos iets uit ’n sprokieswêreld.