binneste
skool
pret

Hoe werk spieëls en periskope?

 

Spieëltjie, spieëltjie aan die hand, wie is die mooiste in die land?

 

Het jy al ooit ’n baba dopgehou wat haarself vir die eerste keer in ’n spieël sien, of selfs ’n budjie wat homself ure lank kan beskou in die klein spieëltjie? ’n Spieël is so alledaags, maar hoe werk dit?

 

Dit is belangrik om te onthou dat ligstrale in reguit lyne beweeg. Miskien het jy al die reguit pad van die strale gesien as die son deur ’n klein opening in ’n stowwerige vertrek skyn. Lig skyn deur deurskynende stowwe soos water en glas, maar dit bons terug (reflekteer) van stowwe wat solied lyk, en hierdie stowwe reflekteer die lig.

 

Wanneer jy na jouself in ’n spieël kyk, lyk dit of jou beeld iewers agter die glas is. (Babas probeer te vat aan die maatjie wat agter die glas “wegkruip”.) Eintlik is daar niks agter die glas nie. Dit wat jy sien, is ’n virtuele of ’n skynbeeld.

 

As ’n kers voor ’n spieël staan, weerkaats die kers die son se ligstrale na die silwerlaag van die spieël. Hierdie strale word dan van die silwerlaag na die oog weerkaats. Die oog “sien” dan die kers in die rigting waarin die ligstrale die oog binnedring. Dit kom nie agter dat die ligstrale langs die pad gebuig is en dat die werklike voorwerp eintlik elders is nie.

 

Minigholf, snoeker en weerkaatsing

 

As jy ’n minigholfballetjie (putt-putt balletjie) slaan, het jy seker al agtergekom dat die hoek waarteen die balletjie die rand tref, bepaal waarheen die balletjie bons. Dit werk dieselfde met ’n snoekerbal.  Die weerkaatsing van lig werk presies dieselfde. Hoe skuinser die rigting waarin die lig op die spieël val, hoe skuinser word dit teruggekaats.

 

Kruip slim weg...