binneste
skool
pret

Reënboë en lig

 

Het jy al gehoor dat iemand sê dat jy deur ’n rooskleurige bril na die wêreld kyk? Dit beteken jy sien net die mooi raak en filter die ander goed uit.

 

As jy ’n blou bril opsit, lyk alles om jou blou. As jy deur ’n geel bril kyk, lyk alles geel. Dit is omdat die blou lense slegs blou lig deurlaat, en die geel lense slegs geel lig. Die wit lig wat ons elke dag sien, bestaan eintlik uit al die kleure wat jy in die reënboog kan sien.

 

Newton het lank gelede ontdek dat sonlig bestaan uit ligstrale van al die kleure van die reënboog. Die sewe kenmerkende kleure van ’n reënboog is violet, indigo, blou, groen, geel, oranje en rooi.

 

Wanneer ’n mens wit lig skuins op ’n glasprisma (driehoekige glas) skyn, buig die verskillende kleure ligstrale verskillend, en kan jy die reënboogkleure aan die ander kant van die prisma sien. Ons noem die reënboogkleure “spektrum”.

 

Hoe word ’n reënboog gevorm?

Soos wat die lig deur ’n prisma gebuig word om die spektrum van reënboogkleure te laat vertoon, buig die lig wat deur waterdruppels gaan om ’n reënboog te vorm. Die violetlig buig teen ’n skerp hoek, terwyl die rooi lig teen ’n stomper hoek buig. Op hierdie wyse breek elke waterdruppel die sonlig op in die spektrum van kleure.

 

Alhoewel elke druppel die volle reënboog vertoon, kan die menslike oog slegs een kleur van elke druppel waarneem. Al die druppels op ’n sekere hoogte sal selgs die rooi strale teen die regte hoek vertoon sodat jy dit kan raaksien. So word die rooi “band” gevorm van die reënboog. Druppels wat effens laer is, sal die oranje lig vertoon, wat die oranje “band” van die reënboog sal vorm. So sal die laagste druppels die violetlig vertoon.

 

Twee reënboë

Soms sien mens ’n dubbele reënboog. Jy sien ’n helder reënboog en ’n dowwer een bokant hom. Vir die tweede reënboog word die lig twee maal weerkaats, daarom is hy baie dowwer. As jy mooi kyk, sal jy sien dat die kleure van die tweede reënboog in die teenoorgestelde volgorde is as die helder reënboog s’n.

 

Eksperimenteer self:maak ’n reënboog