binneste
skool
pret

Asemhaling

 

Hoekom moet jy asemhaal?

Elke mens se lyf bestaan uit miljoene selle. Elke sel het energie nodig. Hierdie energie word deur die liggaam gemaak deur voedingstowwe soos proteïne, vette en suikers te verbrand. Vir hierdie verbrandingsproses benodig die liggaam die suurstof wat ons inasem.

 

Jy asem lug in deur jou neus en mond. Dan beweeg die lug af in jou lugpyp, deur jou longpypies totdat dit in jou longe kom. In jou longe is klein longsakkies. As lug in so ’n sakkie kom, blaas dit op soos ’n klein ballonnetjie.  Hier haal die bloed suurstof uit die ingeasemde lug. Die suurstof word dan versprei na die liggaamselle. Die afvallug (wat deur die verbrandingsproses gemaak word) word as koolsuurgas uitgeasem.

 

Hoe haal jy asem?

Jy het spiere in jou borskas wat jou laat asemhaal. Sommige is vasgeheg aan jou ribbes en maak dat jou ribbekas kan uitsit en inkrimp. Onder jou longe is ’n sterk spier wat ook help. Dit word die diafragma genoem.

 

As jy inasem, beweeg jou diafragma af en jou ribbekas sit uit. Dan is daar meer plek vir jou longe en kan die longe die lug inasem. As jy uitasem, druk jou ribbekas en diafragma die longe saam sodat die lug uitgeblaas moet word.

 

 

Lees  verder