binneste
skool
pret

Hoe sien ek?

 

Jy sien met jou oë.  ’n Oog is soos ’n klein balletjie, omtrent 2 cm in wydte.  Dit word aan die buitekant met drie lagies bedek.  Die grootste deel van die binnekant van die oog is gevul met deurskynende jellie.  

 

 

Die gekleurde deel van die oog word die iris genoem.  Die iris trek saam in skerp lig, wat veroorsaak dat die donker gaatjie in die middel van die oog (die pupil) kleiner word.  As dit effens donker is, maak die iris wyer oop en laat sodoende meer lig in.  Die pupil word dan groter.  

 

Staan naby aan ’n spieël in ’n ligte vertrek.  Hou jou oë vir ’n rukkie toe.  Maak hulle oop en kyk gou na die pupille (swart kolletjies in die middel van jou oë).  Kyk hoe verander dit.  Aanvanklik is die pupille groot, en dan word dit kleiner om te keer dat te veel lig in die oë inkom.  

 

Agter die iris en die pupil is die lens.  Wanneer ons na iets soos ’n voëltjie kyk, beweeg ligstrale van die voëltjie deur die lens na die sensitiewe retina van jou oog.  Die lens fokus die beeld van die voëltjie en die beeld eindig onderstebo op die retina.

 

Die agterkant van die oog bevat baie senuweeselle.  Hierdie senuweeselle dra boodskappe na die brein wat sê wat jy sien.  Al is die beeld op die retina onderstebo, draai die brein dit weer reg.  

 

Lees verder...