binneste
skool
pret

Hoe kry ‘n mens dit reg om te praat?

 

As dit nie was vir die strottehoof in ons keel nie, sou ons nie kon praat nie.  Die strottehoof word ook die adamsappel genoem.   

 

Waar sit jou strottehoof of ademsappel?  Aan die voorkant van jou nek is daar ‘n harde knop.  As jy sluk, spring hierdie knop op en af.  Dit is jou strottehoof.  As jy “w” of “z” sê terwyl jy jou hand op die strottehoof hou, sal jy voel hoe dit tril.

 

Die strottehoof bestaan uit ‘n paar kraakbene.  Binne-in die strottehoof is daar stemvoue, wat stembande genoem word.  As die stembande vibreer, maak dit geluide.  Die stembande vibreer as ons lug van die longe af oor die stembande laat gaan.  As jy jou keel hees skree by die atletiek of rugby, word jou stembande rooi en geswel.  

 

As jy sing, sing jy soms hoë note en ander kere weer lae note.  Vir hoë note sluit die stembande dig, maar vir lae note maak hulle wyd oop.

Wanneer ‘n mens sluk, sluit die stembande dig, en dit is waarom ‘n mens nie kan sluk en praat gelyktydig nie.  (Kan dit dalk een van die redes wees hoekom ons nie moet praat met ‘n mond vol kos nie?!)

 

Hoekom is ‘n man se stem dieper as ‘n seun s’n?

Wanneer ‘n seun groot word, word sy strottehoof groter, en sy stembande amper twee keer so lank, en dit maak dat sy stem dieper word.

‘n Mens gebruik sy tong en lippe om spesifieke klanke te maak.  As jy byvoorbeeld “m” wil sê, sit jy jou lippe mooi styf teenmekaar.  Vir ‘n “l”, druk jy weer jou tong op jou verhemelte teen jou boonste tande vas.

 

Vir baie kinders is dit moelik om die “r” en die “s” reg te sê.  Vir die “r” moet die tong net reg lê teen die verhemelte en so lekker tril, terwyl ‘n mens moet oppas dat jou tong nie tussen jou tande deurkruip as jy ‘n “s” wil sê nie.  As jy bietjie sukkel met die “s”, byt op jou tande en sê dan die “s”.  Dit sal sommer  klaar beter klink!

 

Babas van baie verskillende nasies sê klanke soos ma-ma, ba-ba, pa-pa, ta-ta, da-da, na-na nog voordat hulle kan praat.  Sê bietjie self “m”, “b” en “p”.  Dink mooi waar jou lippe is as jy dit sê.  Al drie is lipklanke.  As jy “t”, “d” en “n” sê, sal jy voel dat hierdie drie weer almal gevorm word met die voorste deel van die tong teen die verhemelte.  Dit is dus baie maklike klanke vir babas om te vorm en daarom sê hulle dit so graag, al beteken dit in hul eie taal dalk nie eens iets nie!

 

Luister ‘n bietjie mooi hoe ‘n Engelssprekende persoon “g” sê, veral mense van die buiteland!  Hulle sukkel maar om te sê “Gert Grobbelaar van Groendoringstraat agtien”.  Dit is omdat die g-klank nie in Engels voorkom nie en hulle dus nooit van kleins af dit hoor of oefen om dit te sê nie.  Op dieselfde manier sukkel ons Afrikaanssprekendes om die klap-geluide te maak wat die Xhosas so dikwels in hul taal gebruik.

 

Lees verder...