binneste
skool
pret

Almal speel gholf

In amper al die lande van die wêreld speel mense gholf. Een rede is dat dit goeie oefening is om te stap en die bal so baie te slaan. Die gholfbane is ook baie mooi, en die spelers geniet dit om in die natuur rond te stap terwyl hulle speel.  Nog ‘n rede is dat almal, jonk en oud, gholf kan speel.

Met ‘n voorgee kan ek (dalk) vir Ernie wen!

‘n Swak speler kan teen ‘n goeie speler wen, omdat hulle op voorgee speel. Hoe werk dit? As ‘n groot boetie teen sy kleiner sussie resies wil hardloop, sê hy vir haar: “Sussie, jy kan 10 treë voor my staan”. Hy gee haar dan ‘n voorgee van 10 treë. Met gholf is dit ook so. As ek ‘n voorgee van 20 houe het en ek speel teen Ernie Els, kan ek 20 houe meer speel as hy om ‘n ronde klaar te maak. As ek 19 houe meer as hy speel, dan wen ek!

 

Kinders en gholf

Kinders kan al sommer van kleins af speel. Daar is spesiale gholfstokke vir kinders en ander mense wat nie met die groot, swaar stokke kan speel nie.

Self speel

Julle kan self lekker gholf speel op die grasperk by die huis. Dis nie nodig om gate in die grasperk te maak nie. Neem vyf of ses leë blikke, skryf nommers op en sit hulle oral op die grasperk neer. Kyk dan wie kan met die minste houe elke blik met die bal raak slaan. Tel elke speler se houe aan die einde bymekaar om te sien wie het gewen. Jy kan vir jou kleiner boetie of sussie ook ‘n voorgee gee.

 

Moet net nie ‘n harde bal gebruik wat die huis se vensters kan breek nie!