binneste
skool
pret

Toerusting

Rugbyballe was eers rond, net soos sokkerballe. Later is die bal ovaal gemaak (soos ’n eier) sodat die spelers dit makliker kan vashou. Die balle was van leer, met ’n rubber binneband wat ’n mens kon oppomp. Die bal het baie swaar en glad geword as dit reën. Balle word nou van ’n soort plastiek gemaak. Hulle is ligter en ook nie so glad en swaar as hulle nat word nie.

 

Rugbystewels is ligter en sterker as in die ou dae. Met die nuwe stewels kan die spelers baie vinniger op die veld rondhardloop en hulle word nie so gou moeg nie. Rugbytruie is van materiaal gemaak wat styf sit om die speler se lyf. Sy teenstanders kan hom dus nie so maklik aan sy trui beetkry nie. Die truie hou die speler koel as dit warm is en warm as dit koud is.

 

Eers het net slotte en agstemanne skrumpette gedra om hulle ore te beskerm in die skrum. Deesdae dra baie spelers kopskerms wat die hele kop beskerm teen skoppe en stampe.

 

Baie spelers dra ook ’n dik skerm ( ’n skouerstut) onder hul truie wat hulle skouers beskerm.

 

Rugby was eers ’n amateursport. Dit beteken dat spelers nie betaal is om te speel nie. Deesdae is dit ’n professionele sport en goeie spelers verdien sommer baie geld om vir die groot klubs of vir hulle land te speel.

 

Selfs vrouens speel deesdae rugby! Hulle speel ook in toetswedstryde en groot toernooie teen mekaar.

 

Het jy geweet?

Hoekom druk jy ’n “drie” as dit eintlik ’n “vyf” is? Dis eintlik maar net omdat ’n drie eers net drie punte werd was. Later het dit vier punte getel en deesdae is dit vyf punte werd.