binneste
skool
pret

‘n Kameralens is egter baie meer ingewikkeld as dit. ’n  Kameralens bestaan uit baie lense wat gekombineer is.

 

Verskillende lense word gebruik vir verskillende situasies. As jy byvoorbeeld graag wilde diere in die wildtuin wil afneem wat nogal ver is, het jy ’n telefoto-lens nodig. As jy ’n klein liewenheersbesie wil afneem dat hy mooi groot en duidelik op die foto is, het jy ’n makro-lens nodig.

 

Digitale kameras:

 

As jy foto’s neem met ’n filmkamera, moet jy die hele rol film vol neem, die film na ’n professionele ontwikkelaar neem, en dan ontvang jy eers die foto’s. As jy dalk ’n mooi leeu afgeneem het in die wildtuin, en die lig of die fokus was nie goed nie, sien jy eers as jy weer tuis is dat die foto ’n floppie is. Nou is dit te laat om dit oor te neem!

 

Met ’n digitale kamera kan jy egter onmiddellik op jou kamera se skermpie sien hoe die foto wat jy geneem het, lyk, en as daar ietsie verkeerd is, kan jy dadelik nog ’n foto neem. Nog ’n groot voordeel van ’n digitale kamera is dat jy die foto’s lank kan bêre op jou rekenaar of op ’n CD, en as jy na jare weer die foto’s wil laat druk, sal hull nog perfek druk. Jy kan nie ’n rolletjie film lank bêre voordat jy die foto’s laat ontwikkel nie, want dan kom die foto’s se kleur dikwels nie meer mooi uit nie.

’n Digitale kamera stel jou in staat om honderde foto’s te neem en slegs die paar wat regtig mooi is, te laat druk. Jy kan baie vinniger leer om mooi foto’s te neem en jy kan baie geld spaar deur nie onnodige foto’s te laat druk nie.

 

As jy rekenaarvaardig is, kan jy ook kleiner foutjies uit jou foto uithaal, deur slim manipulasies op die rekenaar uit te voer op die foto.

 

Het jy geweet?

 

Die eerste prototipe vir ’n digitale kamera is in 1976 gemaak, maar ’n verbruikersweergawe is eers in 1994 bekend gestel. Digitale kameras raak al meer gewild, veral so oor die afgelope 6-7 jaar.