binneste
skool
pret

 

 

Eggo’s en ore laat dolfyne “sien”!

 

 

Diep onder die see is die water troebel en donker. Gevolglik kan dolfyne nie slegs hul oë gebruik om te sien nie. Soos hulle deur die water swem, maak hulle klikgeluide. Hierdie klanke word weerkaats deur voorwerpe (soos vissies) in die omgewing. Die eggo’s word opgevang deur die dolfyn se onderkaak. Die boodskap word dan na die middeloor en brein gestuur. Die brein intepreteer die eggo’s om prooi op te spoor of om hindernisse te vermy.

 

 

Aardbewings en dolfyne

Soms swem groot hoeveelhede dolfyne uit op strande en vrek dan daar. Daar is aanduidings dat dit verband hou met aardbewings wat in die see ontstaan. Daar het 100 loodswalvisse (walvisse is familie van dolfyne) sowat drie weke voor die tsoenami aan die weskus van Tasmanië op die strand uitgeswem en gevrek. Mense reken dat ’n aardbewing onder die see veroorsaak dat die drukking onder die see baie groot is, wat dan die dolfyne (en walvisse) se gehoororgane kan beskadig, en sü van koers af kan dryf.

 

Hoe kan jy dolfyne help?

Eet slegs dolfyn-vriendelike tuna! In sekere dele van die wêreld stel vissers hul nette opsetlik rondom dolfyne. Hulle weet dat tuna gewoonlik naby die dolfyne voorkom. Só raak duisende dolfyne jaarliks verstrengel in die nette en verdrink. Dolfyn-vriendelike tuna word gevang sonder dat dolfyne doodgemaak word. Kyk volgende keer op die tuna-blikkie vir die dolfyn-vriendelike teken.