binneste
skool
pret

My maat doen verkeerde dinge. Wat nou?

 

Daar is maats wat miskien lelike dinge aangeleer het soos om te rook, vloekwoorde te gebruik, mense se goed te steel of te jok. As jy heeltyd saam met hulle speel, kan dit gebeur dat jy ook so begin optree, veral as jy bang is die maat gaan jou los as jy nie die lelike dinge saam doen nie.

 

· Sê vir jou maat dat dit verkeerd is.

Dit is belangrik dat jy vir hierdie maat sê: “Ek hou nie daarvan dat jy steel/vloek nie, en ek wil graag hê dat jy moet ophou, want jy gaan nog in die moeilikheid kom”.  

 

· Kry ander maats

    As die maat nie wil ophou nie is dit beter dat jy vir haar sê: “Ek gaan nie meer saam met jou speel as jy hierdie dinge doen nie, ek wil jou help dat jy ophou. Ek gaan nou met iemand anders speel”.

 

· Praat met volwassenes wat jy vertrou

           Dit is baie belangrik dat jy met Mamma en Pappa of selfs Juffrou praat as jy agterkom jou                        

            maat is besig met verkeerde dinge. Praat met Mamma en Pappa oor jou probleme, Jesus

            het vir hulle die werk gegee om jou groot te maak en te help.

Gee mekaar kanse:

Onthou: niemand hou daarvan om te verloor nie, maar jy kan nie elke keer wen nie.  Wanneer jy saam met maats speel, moet nie bakleierig raak as jy verloor nie, maar sê eerder: “Ek gaan weer probeer.” Gee ook maats wat dalk nie so goed soos jy is nie, ’n kans om weer te probeer.

 

· Wie is die baas:

Kinders (jy ook) hou nie daarvan dat een maat elke keer die baas wil wees nie. Vra ’n bietjie vir ander kinders ook wat hulle wil speel. Julle hoef nie heeltyd te speel wat jy wil speel nie.

 

· Probeer elke dag dieselfde wees:

Dit is nie mooi om party dae vriendelik te wees  met ’n maat en die volgende dag dan is jy mislik en onregverdig nie. Probeer om elke dag vriendelik en hulpvaardig te wees. Wanneer jy dalk hartseer of siek voel, sê vir die maat “Ek wil nie vandag saam speel nie, want ek voel sleg”. Dan weet die maat jy is nie kwaad nie. Indien ’n maat lelik was met jou en hy of sy sê vir jou “ek is jammer”, gee hom of haar ’n drukkie en sê “dis reg, kom ons vergeet daarvan”.

 

· Gee komplimente:

Wanneer ’n maat iets goed doen sê vir hom/haar “Jy is goed” of “dis baie mooi, sal jy my ook asseblief leer om ’n huisie so mooi te teken?” Wanneer ‘n maat jou ’n kompliment gee, sê dankie, maar moenie so spog oor jou prestasie dat die maat minderwaardig en sleg voel nie.