binneste
skool
pret

SJOKOLADENESSIES

 

BENODIGHEDE:

Sif

Mengbak

Houtlepel

Maatkoppie

Maatlepels

Plastieksakkie

Koekroller

 

 

BESTANDDELE:

125 g botter/margarien

130 g (250 ml) versiersuiker, gesif

40 g (100 ml) kakao, gesif

1 pak (200 g) Marie-beskuitjies

125 ml fyn appelkooskonfyt

5 ml vanieljegeursel

40 g (125 ml) klapper

Astro’s / malvalekkers / kersies

 

 

METODE:

· Meet die botter/margarien af.

As jy ’n groot blok margarien het (500g) kan jy dit mooi in kwarte deel en dan een kwart gebruik (want ¼ van 500g = 125g). Anders moet jy ’n kombuisskaal gebruik om die margarien af te weeg.

· Verroom die botter/margarien.

(Dit beteken jy moet dit meng totdat dit lekker sag is. Om jouself baie moeite te spaar, sit die margarien ’n hele ruk buite die yskas voordat jy begin met jou bak-en-brou sessie. Dan is dit klaar sag en verroom dit maklik. Jy kan dit ook vir ’n baie kort rukkie in die mikrogolf sit, maar moenie dat dit smelt nie – vra vir Mamma om jou te help.)

· Sif die versiersuiker en kakao saam bo-oor en meng.

(Moenie moedeloos word as dit baie droog lyk nie, hou aan met meng totdat al die versiersuiker en kakao klam is van die botter.)

· Plaas die Marie-beskuitjies in die plastieksakkie. Rol fyn met die koekroller.

· Voeg die fyngemaakte beskuitjies, konfyt en geursel by en meng deeglik.

· Plaas die mengsel vir so 2 ure in die yskas, dan is die volgende stap makliker.

· Maak solank die kombuis aan die kant!

· Rol die mengsel in okkerneut-groot balletjies en rol elke balletjie in klapper.

· Druk ’n astro in elke balletjie sodat dit soos ’n nessie lyk.

Jy kan ook die astro heeltemal toemaak met die mengsel, of selfs malvalekkers of kersies binne-in sit! Probeer verskillende goed en toets wat vir jou en jou gesin /maats die lekkerste is.

· Bewaar die sjokoladenessies in ’n toe houer in die yskas.