binneste
skool
pret

Soos ons meer passies leer ken het, kon ons ingewikkelder danse leer, want enige dans is eintlik net ’n klomp passies wat saamgevoeg word! Dit is egter baie belangrik om mooi na die musiek te luister wanneer ’n mens ’n dans uitwerk en natuurlik wanneer jy dit uiteindelik dans. Die passies, die ritme en die tempo waarteen mens die passies uitvoer moet pas by die musiek. Dit sal mos laf lyk as jy opgewonde rondhop en spring op sulke stadige, treurige musiek, of stadige bewegings doen op opgewekte musiek!

Om uiteindelik ’n suksesvolle ballerina te word, is dit belangrik om bereid te wees om baie hard te werk. Jy moet fiks wees en soepel. Jy moet jou bene ho-o-og kan oplig sonder om te voel asof al jou spiere gaan skeur, en dit kry mens net reg deur gereeld te strek en geleidelik die spiere gewoond daaraan te maak.

 

Ek is seker elke meisie wat daarvan droom om ’n ballerina te word, sien haarself op haar tone dans. Ek kon nie wag om die eerste keer my puntskoene aan te trek nie – dit was toe ek twaalf jaar oud was. Dit is satynskoene waarvan die voorkante spesiaal hard gemaak is sodat dit jou voet ondersteun as jy op pointes dans. Maar glo vir my, dit was maar baie seer om op my tone te dans! Maar die gevoel van genot en tevredenheid as ek ’n passie perfek op my tone uitvoer, het die pyn oortref!

 

Ek het natuurlik al my naam ’n paar keer lekker wegge”gooi”, soos die keer toe ek ’n pirrouette moes doen en so vinnig in die rondte getol het dat ek nie weer kon stop nie. Na die tyd was ek so dronk dat ek skoon skeef soos ’n krap geloop het!

 

Om te dans, is vir my ’n gawe van God. Op dae wat ek ongelukkig voel, begin ek sommer net te dans, al voel ek nie juis lus daarvoor nie, en voor ek my oë uitvee, is al die ongelukkigheid weg en voel my hart vrolik en lig!